Friday, May 17, 2013

Die Republiek van Tarentaal - 

Ansie Cornelius-Liebenberg



Die Republiek van Tarentaal is enig in sy soort in die wêreld, en kom voor op die kampus van die huidige Noord-Wes Universiteit te Potchefstroom, of kortweg genoem die PUK. Dit is ‘n ware republiek met ‘n president en kabinetslede wat hul onderdane, al die Pukke, nuwes sowel as oues, met eg humoristiese studentewysheid regeer.

Afgode - Piet Schoombie

Hierdie is die  aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis om 'n staanplek vir homself in die lewe af te baken. Die seun was 'n vondelingbaba en het dus nooit enige ouerliefde ervaar nie. Oënskynlik is daar ook nie familie wat hulle oor hom ontferm nie. Hy kan dus slegs op sy eie instinkte en fisieke vermoëns staatmaak. 'n Groepie simpatieke  volwassenes probeer hom wel help en bystaan waar hulle kan. Ongelukkig is daar ook die kansvatters wat hom wil uitbuit en hulle ten koste van 'n weeskind wil verryk! Hierdie is 'n verhaal van vasbyt en deurdruk, ongeag allerhande beperkings en terugslae in die lewe.


Tussendeur alles is daar natuurlik ook nog die wêreld se vele afgode, wat as struikelblokke 'n arm weeskind gereeld treiter. Daar is darem ook die opwinding van gholftoernooie en die ekstase van eerste liefde vir twee verskillende skoonhede, die blonde rykmansdogter en die pragtige hoofmeisie van die hoërskool.  Die simboliek van die buiteblad is van 'n jong man wat 'n nuwe daeraad in sy lewe tegemoetstap.

Weldade en Misdade - Piet Schoombie


Hierdie bundel bevat vier en twintig lekkerlees kortverhale en artikels oor 'n verskeidenheid onderwerpe en situasies. Sommige daarvan het reeds in 'n e-boek verskyn, maar almal word vir die eerste keer hiermee in gedrukte vorm uitgegee. Die temas van die verskillende geskrifte  in die boek is verteenwoordigend van die eeu oue stryd tussen goed en kwaad. Dit poog om nie net interessant,  opwindend en spannend te wees nie, maar om ook die sosiale gewete van die lesers aan te spreek. Daar is temas van verslawing in verskillende vorms, besoedeling van die natuur en die kuberruimte en van misdaad. Al hierdie verskynsels is soortgelyk aan probleme wat regoor die wêreld voorkom en simptomaties van die hedendaagse lewe is. Daar is ook 'n verhaal met 'n sterk wetenskapsfiksie-inslag.